top of page
Perine Pretorius – Founder of Suikerbekkie

Hello

Ek is Perine, die hart agter Suikerbekkie.
Ek het nog altyd daarvan gehou om moo goed te skep wat deurdink, mooi saamgestel en ’n bietjie nostalgies is. Of dit nou ’n nageregtafel, geskenk of gestileerde opstelling is, my doel bly eenvoudig: om iets te maak wat mooi is sonder om sy warmte of egtheid te verloor.

My Verhaal

Oor My
Ek het al meer as drie-en-twintig jaar lank geleenthede en handelsmerk-promosies gekoördineer en mooi ervarings geskep waar detail en ontwerp altyd saak maak. Ek glo dat ware uitnemendheid gebeur wanneer jy iets met hart en bedoeling aanpak. Goeie ontwerp gaan oor balans, skaal en harmonie – daardie oomblik wanneer alles net reg lyk en voel.

Waar Ek Vandaan Kom
Ek het in Suid-Afrika grootgeword, waar mense hou van saamkuier – warm, kleurvol en altyd met lekker kos op die tafel. Suid-Afrikaanse vroue het daardie ding vir koördinasie; alles moet bymekaar pas, van die blomme tot die servette. Ons gee om oor die klein details, want dis wat iets spesiaal maak. Ná ek België toe getrek het, wou ek daardie warmte, humor en gesellige chaos deel met die meer gereserveerde Belge, en tegelyk inspeel op hulle liefde vir die Bourgondiese leefstyl – goeie kos, lang geselsies en ’n rustige manier van geniet. Dis daardie mengsel van twee wêrelde wat vir my so tuis voel.

Ervaring en Opleiding
Voor ek Suikerbekkie begin het, het ek Balloon Design Academy in Suid-Afrika bestuur. BDA het deels gefokus op dekor- en koördinasiedienste, en deels op opleiding om ’n nuwe generasie ballon-dekorspesialiste op te lei. Ballonne was vir my ’n sterk medium – ’n kreatiewe en effektiewe bemarkingsmiddel wat mense se aandag trek en prikkel. Ek was altyd verbaas oor hoe goeie ontwerp ’n gewone, selfs dowwe ruimte, kon verander en ’n passende atmosfeer skep wat vol energie, warmte en emosie voel.

Ek het die opleidingsaspek van my werk ongelooflik baie geniet! Dit het my gevul met eindelose vreugde om te sien hoe mense hulle kreatiwiteit en selfvertroue ontdek en ontwikkel. Ek hoop om hier ook van tyd tot tyd ’n werkswinkel aan te bied en my kennis en passie met ander te deel.

My Inspirasie
Ek vind inspirasie in alles en oral, maar die natuur bly beslis my grootste bron. Moeder Natuur se kleurpalette, teksture en balans bly vir my onuitputlik. Ander bronne van inspirasie is kuns en poësie, maar ek dink dit lê ewe veel in die gewone dinge wat ons raaksien in die verbygaan op ’n alledaagse dag. Inspirasie is oral – jy moet dit net raaksien – en ek hou daarvan om daardie indrukke te vertaal in iets tasbaar en mooi.

My Filosofie
Ek glo in ambagswerk, kwaliteit bestanddele en om regtig teenwoordig te wees in wat ek doen. Elke boksie, lint en happie word met bedoeling en sorg gekies of gemaak – of dis darem waarna ek streef. My kinders het my leuse al só baie gehoor dat hulle dit seker in hul slaap kan opsê: As jy iets doen, doen dit reg of los dit… en los is nie ’n opsie nie, so doen dit liewer reg. Daardie gesindheid loop soos ’n goue draad deur alles wat ek doen. Suikerbekkie gaan nie oor perfeksie of massaproduksie nie. Dis oor sorg, gehalte en betekenis.

Wanneer dit by geskenke kom, glo ek dit gaan nie oor wat vir die gewer mooi of gerieflik is nie. Dit gaan oor werklik luister en absorbeer wat die persoon vir wie jy iets gee, mooi vind of gaan waardeer. Dis waar die betekenis lê – in die feit dat jy aandag gee.

Wat Jy Kan Verwag
Wanneer jy by Suikerbekkie bestel, kan jy weet dat ek dieselfde sorg en liefde daarin steek asof ek dit vir my eie geliefdes maak – met die beste bestanddele en baie liefde. Ek hanteer elke bestelling self, van die eerste boodskap tot die laaste lint.

Ek glo kommunikasie moet duidelik wees, afsprake moet gehou word, en elke kliënt se bestelling is vir my belangrik. Dinge loop nie altyd perfek nie – oonde het soms hul eie planne – maar ek gee altyd my beste en maak seker dit eindig reg.

Of dit nou ’n geskenkboks, ’n stylvolle tafel of ’n klein feesie is, jy kan eerlikheid, sorg en iets met hart verwag. Dis die belofte agter Suikerbekkie.

Hoekom Suikerbekkie

Suikerbekkie verwys na die klein suikerbekvoëltjie – ’n kleurvolle voëltjie wat dikwels tussen die helder proteas en veldblomme van die Kaap rondfladder. Hy leef van soetigheid en is van nature aangetrokke tot kleur en skoonheid. Dis ook ’n troetelnaam, soos my liefie of my bekkie. En letterlik beteken dit natuurlik om ’n mond vol suiker te hê – wat nogal pas by wat ek doen.

Die naam voel vir my reg, want dit dra alles wat ek liefhet: kleur, warmte, vrygewigheid en ’n tikkie soet. Baie Belge hou van hoe Afrikaans klink – selfs as hulle nie weet wat dit beteken nie, laat die woord hulle glimlag. Suikerbekkie verbind my Suid-Afrikaanse wortels met my lewe hier in België – ’n klein, soet raakpunt tussen twee uiteenlopende wêrelde.

WINKEL:

Voorwaardes & Bepalings
Vrae en Antwoorde
Versending / Afhaal
Winkelbeleid
Kontak My

BESKIKBAARHEIDSURE:

Suikerbekkie het geen vaste ure nie.
Afhaal- en afleweringstye word vooraf gereël op ’n manier wat vir jou gemaklik is.
Persoonlike afsprake kan gereël word indien verkies.


Dankie dat jy my en my klein besigheid ondersteun.

ADRES:

Hollestraat 15
2220, Hallaar
België

  • Instagram
  • Facebook

© 2023 deur Suikerbekkie Traktaties. 

Subscribe for a little sweetness in your inbox. Get an occasional note when something fresh is baking, a workshop opens, or a new box launches. Simple, warm, and worth reading with your coffee.

bottom of page